Wat gebeur in Desember?
November 26th, 2026Hoera, dis vakansie!
Lang, sonnige dae, feestelike jolyt en meer tyd saam met geliefdes – daar is baie om na uit te sien soos wat die jaar einde se kant toe staan. Ná drie jaar nader die padwerke op die Klapmuts-Simondiumpad uiteindelik voltooiing – dit alleen is genoeg rede om fees te vier!
Die kurke klap
Dis met groot trots dat ons ’n glasie Sprankel 2021 klink om Babylonstoren se plek onder die wêreld se top 100 wynlandgoedere te vier. Ons beklee die 89ste plek op die ranglys wat deur die World’s 50 Best Vineyards 2026 saamgestel is. Ons pas opgeknapte en uitgebreide Proelokaal staan gereed om jou te verwelkom. Kom deel in die uitsonderlike werk van ons wynspan!
Ons tuin het ook internasionale erkenning gekry. Babylonstoren is as die oorsese streekwenner in 2026 se RHS Partner Garden of the Year-kompetisie aangewys. Dié kompetisie gee erkenning aan tuine wat die natuur koester en beskerm. Dis ’n welverdiende pluimpie vir ons uitmuntende tuiniers wat die plaas se groen hart met soveel toewyding versorg.
Ons is trots daarop dat Babylonstoren iets vir elke geslag bied, met interessante ontdekkings en belewenisse vir oud en jonk. Wandel deur die tuin met gelato in die hand, terwyl die kinders skaterlag wanneer die gediertes in die Brulparra-doolhof hulle onverwags natspuit. Gaan soek die skilpad langs ons skilpadhok en druk sy kop vir ’n lekker nat verrassing! Volg dan die gezoem tot by die Byzantium, ons huldeblyk aan bye anderkant die Moestuin.

Ontsnap na die plaas
’n Bietjie ekstra tyd op die plaas is dalk net wat jy hierdie feestyd nodig het. Bespreek tussen 1 en 15 Desember verblyf van twee nagte en geniet ’n tweegangaandete met ’n vaste spyskaart by Babel Restaurant. Bly ’n derde nag teen 30% afslag – dis nog meer tyd vir tuinwandelings, luilekker ontbyte en al die plesiere van die plaaslewe. Gun jouself hierdie feestyd die kosbare geskenk van tyd en ruimte.

Geskenke uit die tuin
Kersinkopies op die plaas kan sommer groot pret wees! Knoop eers ’n geselsie met die hoenders aan of krap ’n donkie agter die ore en vind dan jou weg na ons feestelike opwipwinkel in die Geskenkkamer. Hier is geskenke wat net soveel vreugde verskaf om uit te soek en te gee as om te ontvang. Dis tot 24 Desember elke dag oop met items vir tuinliefhebbers, kokke, braaimeesters, boekwurms, skemerkelkiemakers, tuisteskeppers en almal wat van ’n lekkerruikbederfie hou. Ons draai ook elke geskenk pragtig toe sodat dit sommer reguit van die plaas af tot onder die Kersboom kan gaan. As jy in Gauteng is, kan jy tot 24 Desember by ons opwipwinkel in die Mall of Africa kom inloer vir ’n keur van die plaas se gewildste produkte.

Van tuin tot feestafel
In samewerking met die Four Seasons Hotel The Westcliff in Johannesburg vier ons hierdie feestyd die prag van ons Geskenketuin en die vreugde van saamwees. Kom maak ’n wens by die Wensboom in die hotel se voorportaal, sit aan vir ’n elegante namiddagtee of proe aan vindingryke mengeldrankies met geure uit die tuin. Dié besondere ervarings bring mense nader aan mekaar, skep kosbare herinneringe en maak die samesyn ’n tikkie meer besonders.

Feesmaal sonder moeite
Min moeite, hope geur! In die jongste episode van BabylonSTORIES deel ons kosstilis en resepontwikkelaar, Inemari Rabie, haar geheime vir feestelike onthaal sonder ’n gesukkel. Kyk of luister daarna op die Babylonstoren-toep, YouTube, Spotify of Apple Podcasts.
Somerweelde
Die somer bring oorvloed na die tuin en boorde. Pruime, kersies en bessies word ryp, spanspekke van verskillende vorms en groottes swel aan die ranke en die groentebeddings staan vol bone, radyse en soetrissies. Die laventel blom en vlierblomme versprei hul delikate geur deur die tuin. In die Pofadder-tonnel wag ’n interessante uitstalling van bonsaibome, waaronder ook inheemse spesies. Dié miniatuurboompies vorm ’n boeiende kontras met die welige groei in die somertuin.
Kom speel op Soetmelksvlei!
Waar beter as op ’n plaaswerf uit 1897 kan kinders na hartelus hardloop, speel, leer en lawaai maak! Soetmelksvlei is van 8 Desember tot 10 Januarie sewe dae per week oop, met hope aktiwiteite om klein handjies en voetjies besig te hou. Gaan soek die gemmerkatte, speel ’n potjie albasters of kennetjie.
Miniwerkswinkels vir kinders sorg vir nog pret, met sessies op vasgestelde tye deur die dag. Maak jou eie lappop of vlieër, bak koekies of neem deel aan ’n skattejag. Jy hoef nie vooraf te bespreek nie – wie eerste kom, kry eerste plek en jy betaal sommer daar en dan. Kom gereed om te speel, hande vuil te kry en die plaaslewe in 1897 te geniet.

Rietvlei se rustige reuse
Ontmoet Rietvlei se wonderlike waterbuffels op ’n interaktiewe toer. Kyk hoe die buffels gemelk word, gee ’n kalfie bottel en help om hulle te versorg. Die kleingoed kan met klei speel voordat almal saam proe aan lekkernye gemaak van waterbuffelmelk – ’n heerlike bederf veral vir kaas- en roomysliefhebbers! Toere vind op Dinsdae en Donderdae plaas, met plek vir tot 10 gaste. Bespreek aanlyn en meld by die kaartjiekantoor aan.

Somer op sy beste
Vier die somer se oorvloed by ons laaste Oestafel van die jaar op Saterdag 5 Desember. Gaste sit aan by ’n lang tafel op ’n geheime plek op die plaas vir ’n feesmaal met die allerbeste uit ons tuine, boorde, kampe en wynkelder. Trek aan in skakerings van somerrooi. Bespreking is noodsaaklik.
Beleef die tuin in ’n ander lig tydens ’n begeleide sonsondergangtoer op 5 of 19 Desember. Ons wandel deur die boorde, wingerde en tuine voordat ons die Babylonstoren-koppie uitklim. Onderweg, terwyl die skemer toesak, hoor jy meer oor vars gewasse, nagdiere en die plaas se geskiedenis.
Ons susters vier fees
Van die Kaap tot op die Engelse platteland vier ons susterlandgoedere elkeen die feestyd op hul eie besondere manier. By The Newt in Somerset kan besoekers uitsien na betowerende Kersroetes, die vleg van kerskranse, tradisionele handwerk, feestelike maaltye en ’n spesiale besoek van Sint Nikolaas. En by The Story of Emily in Cornwall herleef Victoriaanse speletjies, stories, musiek en ander feestelike tradisies – alles in die pragtig versierde pastorie.
By Over-Amstel Boerderij in Nederland is daar in Desember private Kersetes, werkswinkels en tema-etes asook die kans om hul seisoenale pampoenspeserykonfyt te proe. Kersfees by Vignamaggio is ewe betowerend as smaaklik, met die landgoed se vars oeste en uitmuntende wyne wat die kollig steel – eenvoudig bellissimo! Terug op eie bodem bied BLOU in Keurbooms die perfekte somervakansie – tone in die sand, ’n oop hemelruim en ’n onbelemmerde uitsig oor die Indiese Oseaan.
Werkswinkels in Desember
Babylonstoren
1, 3, 8 & 10 December – Christmas decor from the garden
2 December – Grow your own edible and cut flowers
5 December – A Christmas bake story
10 December – Hands-on pasta-making in the evening
11 December – Creating a Christmas occasion
12 December – Bake & decorate Christmas biscuits (kids aged 6–12)
15 December – Babylonstoren koppie family hike
15 December – Grow your own veggies (kids aged 8–12)
16 December – Little foodies: mozzarella & pizza
17 December – Lavender & essential oils
18 December – Bake Christmas gifts & decor
Soetmelksvlei
3 December – Cape food: traditional bobotie with seasonal chutney
4 December – Pickle & preserve the season’s abundance
10 December – Sun prints at Soetmelksvlei