Op die plaas is die winter ’n seisoen van kontraste. Terwyl party van die immergroen bome se takke met helder sitrusvrugte versier is, staan die meeste van ons winterbome afgeëts met hul kaal takke. En al is die dae meestal grou, kom daar elke nou en dan die verrassing van onverwagte sonskyn. Ons staan met koppies stomende koffie terwyl yskoue druppeltjies op die Glaskas se dak dans. Hierdie is ’n seisoen vir al die sintuie. 

As jy net mooi kyk, is daar oral in die tuin tekens van lewe, selfs op die heel grysste van grys dae. Trek aan jou reënstewels, gryp ’n sambreel en gaan op ’n verfrissende stappie. In die groentetuin is dit duidelik dat hierdie seisoen alles behalwe vaal is – ons oes nou brassicas, radicchio, wortels, vinkel, kohlrabi en rape en die eerste waterblommetjies tooi die damme by die Vetplanthuis in liggroen en spierwit. En by die rotsuitstalling in die Pofadder kom mens tot die slotsom dat die lewe onverwagte vorms kan aanneem. 

Een van die seisoen se grootste lekkertes is sitrusvrugte – en ons verwag ’n oorvloed daarvan om in ons spesiale sitrusbokse te deel. Ons wag tot hulle lekker ryp is voordat ons begin pluk om die smaaklikste vrugte te verseker. Maak jou reg vir die jaar se sitrusbonanza: nartjies, suurlemoene, lemmetjies, lemoene en natuurlik ons geliefde bloedlemoene. Bestel gerus ’n boks en deel dit met ander om vars te eet, of gebruik dit vir tuisgemaakte sap, marmelade of vrugtestroop. 

Haal uit die snoeiskêr  

Dis ’n besige tyd van die jaar vir die tuiniers terwyl hulle die vrugdraende bome regsnoei ter voorbereiding op die lente. Kom kyk self hoe ons span kundiges dit aanpak by die praktiese snoei- en espalierwerkswinkel wat ons op die plaas aanbied. Of blaai deur snoeimeester Oom Anton se splinternuwe boek, Prune Like a Pro – The Babylonstoren Guide to Pruning Fruit Trees. Dis ’n geïllustreerde gids wat die belangrikste aspekte van die snoei van vrugtebome dek, met duidelike instruksies en inligting oor snoeimetodes, dra-gewoontes en boomkuns. Prune Like a Pro is die ideale metgesel vir enigiemand met ’n vrugteboom in die tuin.

Keldertoere: wyn & olywe 

Die olyfaanleg het pas heropen en is nét die plek op somber wintersdae. Besoek die olyfoliepers, meng jou eie olyfolie en proe ons olywe, olyfolies en tapenades, saam met ’n hele rits geurige Babylonstoren-produkte.
  

Kom kuier in die Proelokaal en klink ’n glasie op Nebukadnesar – een van ons pronkwyne. By die onlangse inhuldiging van die president in Pretoria is hierdie uithalerversnit saam met die hoofgereg – voormalige President Nelson Mandela se gunstelinglamsgereg – bedien. Of probeer ons bekroonde Shiraz – een van slegs 26 wyne wat by die gesogte Syrah du Monde internasionale wynkompetisie in Frankryk se Rhône-vallei ’n goue medalje verwerf het. Dan is daar natuurlik ook ons Cap Classique, Sprankel. Dis vars en borrelend, en met elke sluk is dit kompleet of jy die sterre proe. Nadat hierdie wyn in Junie saam met die allerbestes vanoor die wêreld by die Schaumwein-Degustation in Switserland beoordeel is, is dit onder die Top 10 geplaas. 

Heerlike winterwarmte  

Kom bederf jouself hierdie winter by die warmspa. Verkwik liggaam en siel terwyl jy terugleun in die bruispoel en heerlik in die warm water en stoom ontspan. Of kom skud die winterweemoed af in die spa se Rasul-kamer of hammam. 

WINTERAANBOD: Bespreek twee nagte by die Plaashotel en ontvang ’n komplimentêre  spabehandeling van 30 minute. Geldig tot die einde van Augustus. 

NUWE Bloedlemoen-geur 

Daar is beperkte voorraad van ons nuwe Bloedlemoen-geur, so neem die kans waar om hiervan in die hande te kry. Hierdie geur is deur ons bloedlemoenboorde geïnspireer en kombineer die geur van bloedlemoenskil met die houtagtige note van tiemie en kuskusgras (vetiver). Slegs beskikbaar as kerse, kamersproei en handeroom.  

WEN hotelverblyf vir 2  

Wen twee nagte se verblyf vir jou en ’n metgesel by Babylonstoren se Plaashotel. Met elke bestelling van R1500 of meer tussen 26 Junie en 16 Julie ontvang jy ’n inskrywing vir die kompetisie. B’s en V’s geld. Verwag ’n onvergeetlike ervaring – die Plaashotel is onlangs vir die vierde agtereenvolgende jaar vir ’n Condé Nast Traveller Readers’ Choice Award genomineer.