WAT GEBEUR IN OKTOBER
September 25th, 2026Die lente is in volle swang en die tuin gons van bedrywigheid. Soos elke ander jaar is Tuindag ’n hoogtepunt op ons kalender. Hierdie keer val dit op Sondag, 18 Oktober en dis groentetuine wat vanjaar die kollig steel.

Smullekker skatte
Ons vier die oorvloed wat die grond oplewer en die eenvoudige vreugde van goeie en gesonde kos uit die tuin. In ’n tyd waarin iets so basies al hoe meer soos ’n luukse voel, is dit goed om te onthou hoeveel ’n tuin bied – voeding, kennis en die genot daarvan om te eet wat jy self gekweek het.
Soos altyd is blomkranse deel van die pret, maar vanjaar gee ons hulle ’n eetbare kinkel. Dink aan bessietakkies, geurige kruie, eetbare blomme, eksotiese groente en ander skatte uit die kombuistuin wat tussen die blomme ingevleg word.
Met jou kroon op jou kop kan jy deur die tuin wandel en langs die pad aan proe-ervarings en ander aktiwiteite deelneem – van Babylonstoren-wyne en olyfolies tot lewendige musiek en kranse vleg, met hope prettige plaasaktiwiteite om ook klein tuiniers besig te hou. Maak daarna ’n draai by die fotohokkie om jouself in jou lenteglorie te kiek. Kom honger en nuuskierig, en gereed om jou in die plaas se groen oorvloed te verlustig.
Rek Tuindag so ’n bietjie langer uit met ons Garden in Bloom Escape-aanbod. Drie lieflike lentenagte, met ontbyt by Babel elke oggend, een tweegang-aandete by Babel per gas, ’n privaat begeleide tuintoer en die kans om op die laaste dag bietjie langer te bly danksy ’n later uitkloktyd. Tot einde November, onderhewig aan beskikbaarheid.

Ontmoet Horrell & Horrell
Ons bring Horrell & Horrell se plattelandse sjarme en bekroonde kookvernuf na Babylonstoren vir die hele Tuindag-naweek. Jules en Steve Horrell van Horrell & Horrell in Somerset, Engeland, is voorstanders van die plaas-tot-tafel-benadering en span saam met ons uitvoerende sjef, Schalk Vlok, vir twee besondere eetervarings wat inspirasie put uit dít wat rondom ons groei. Met hierdie jaar se vroeë lente goed op dreef, bied die tuin aan die sjefs ’n merkwaardige verskeidenheid om op die bord te laat pronk.
Op Vrydag, 16 Oktober, bied die Ou Bakkery ’n Vlok & Horrell-feesmaal aan. Die Fire Supper word geheel en al oor ’n oop vuur en in die houtoond berei. Hier word die plaas se varsste produkte oor die kole en in die vlamme gaargemaak – geen fieterjasies nie, net goedheid en geur uit die tuin.
Wanneer Tuindag op Sondag 18 Oktober tot ’n einde kom, span Vlok & Horrell saam vir ’n besondere seisoenale ete aan ’n lang tafel onder die sterre. Dié sjefs het hul loopbane gebou op ’n liefde vir tuisgekweekte produkte, en hierdie is ’n seldsame geleentheid om te proe wat hulle daarmee optower. Besoek die Events-bladsy op ons webwerf om jou plek aan tafel te bespreek.
Verander Tuindag in ’n heerlike naweekwegbreek met ons Gourmand Garden Stay. Bly die Vrydag- en Saterdagaand oor en kry een sitplek by Vrydagaand se ete wat slegs oor die vuur en kole berei word. Of bly Saterdag- en Sondagaand en kry een sitplek aan die Vlok & Horrell-langtafel.

Ontmoet Rietvlei se waterbuffels
Ontmoet ons vriendelike waterbuffels op ’n splinternuwe toer na Rietvlei. Dis ’n eerstehandse plaaservaring waar jy alles gaan sien en beleef wat op ’n daaglikse basis by hierdie uitsonderlike melkery plaasvind. Daar is ’n interessante melkdemonstrasie, jy kan ’n kalfie bottel gee en selfs help om hierdie goed gemanierde diere te versorg.
Dis ’n plaaservaring vir elke sintuig, met baie om te leer. Kom luister saam na die klassieke musiek wat vir die trop gespeel word en beleef ’n unieke proe van produkte wat van waterbuffelmelk gemaak word. Om klein handjies besig te hou, is daar ook ’n klei-aktiwiteit. Bespreek aanlyn en meld 13h20 by die Babylonstoren-kaartjiekantoor aan vir die kort rit na Rietvlei.

Ryp en reg vir smul
Die boslelies is op hul heel mooiste en bring helder kleur na die Pofadder-tonnel en die skaduryke paadjie langs die stroom. In die Moestuin is dit nou tyd om die laaste aspersies van die seisoen te geniet, terwyl die eerste perskes en pruime in die boorde begin ryp word en die moerbeibome oorlaai is met vruggies – sappige happies om sommer so in die verbygaan te pluk.
Ons tonnels loop oor van vars groenigheid, met murgpampoentjies, vlapampoentjies en komkommers in oorvloed. Stap die Glaskas binne en ontdek ’n versameling skaars plante wat nêrens anders op die plaas te sien is nie. Volg dan jou ore tot by die gegons in die Byzantium, waar besige bytjies tussen die bloeisels rondzoem en met ’n vrag stuifmeel na hul korwe terugkeer.
En moenie te vinnig by die Welwitschia-rotstuin verbystap nie. Vertoef ’n oomblik en dalk sien jy een van ons bloukopkoggelmanders se koddige danspassies in die warm sonskyn.

Vakansietyd op Soetmelksvlei
Kom saam op ’n reis terug na 1897 en ontdek die plaaswerf teen jou eie pas. Klim op die ossewa, getrek deur ons reusagtige Chianina-osse, Ilios en Astro, of spring op die muilwa vir ’n ietwat vinniger rit deur die plaas.
By die Ou Stalle Restaurant wag ’n ruim plaasmaal, maar hou ’n gaatjie vir roosterkoek. Bak jou eie oor die kole langs die Plaashuis en geniet dit warm met ’n lekker smeersel plaasbotter. Probeer daarna om op die outydse manier room af te skei – een van vele ervarings wat jou eerstehands laat beleef hoe kos in 1897 van die plaas tot op die tafel gekom het.

Dink pienk. Dink groot.
Wat neem ’n mens saam na ’n spesiale geleentheid? Ons blommekind, die Mourvèdre Rosé, is die ideale metgesel. En as die geleentheid iets groots vra, is ons eksklusiewe sesliterbottels net die ding. Slegs in beperkte hoeveelhede in ons Proelokaal beskikbaar, solank voorraad hou.
Nee, hierdie bielie is nie ’n magnum of selfs ’n dubbelmagnum nie – dié hou maar ’n skamele drie liter. ’n Sesliterbottel soos dié staan in die Rhône-streek as ’n Metusalem bekend, en is vernoem na die Bybelse figuur wat vir sy buitengewone lang lewe bekend was. Die naam sinspeel op langlewendheid en die wyn se verouderingspotensiaal. Maar aangesien ons blommekind so besonder maklik drink, is veroudering waarskynlik die laaste ding waaroor jy jou hoef te bekommer.
As jy gedurende Oktober drie bottels Mourvèdre Rosé in ons aanlynwinkel koop, gee ons jou een gratis. Jy word ook outomaties ingeskryf in ’n trekking waar jy twee nagte se verblyf by die Babylonstoren Plaashotel kanwen, met ’n wonderlike plaasontbyt by Babel Restaurant ingesluit.

Swart goud
Een keer per jaar sluit agt gelukkige balsamasynliefhebbers by keldermeester Klaas Stoffberg aan vir ons jaarlikse werkswinkel. Dit begin met ’n toer deur die kelder en eindig in ons verouderingsruimte, waar geduld ’n wesenlike deel van die proses is.
Ons balsamasyn begin met ingevoerde mos van lambrusco- en trebbiano-druiwe en word in tradisionele Italiaanse vaatjies verouder. Elke jaar word die asyn na ’n kleiner vaatjie oorgeplaas en raak die geur stadigaan meer gekonsentreerd en kompleks, totdat dit uiteindelik die kleinste vat bereik.
Dít is waar die swart goud lê. Slegs ’n handvol 100 ml-botteltjies word jaarliks uit die kleinste vat getap. Dis ’n kosbare asyn, bedoel om oopgemaak, gedeel en behoorlik geniet te word. Heel gepas sluit die werkswinkel af met ’n proeseltjie van hierdie kosbare eindproduk.

Van die plaas na die kus
Ná ’n kuier op die plaas wag daar by ons susterlandgoed, BLOU in Keurbooms, nog ’n besondere ervaring – dié keer langs die see. Grawe jou voete onder die sand in, kyk hoe dolfyne in die branders baljaar en laat jou na liggaam en gees deur die see verkwik. BLOU in Keurbooms is uitsluitlik beskikbaar vir gaste wat al voorheen by Babylonstoren of The Newt oornag het en is die ideale tweede hoofstuk van ’n Kaapse wegbreek – verruil wingerde en tuinpaadjies vir sand tussen jou tone en die vele skakerings van blou tussen hemel en see.

WERKSWINKELS IN OKTOBER
In Oktober is daar ’n interessante verskeidenheid werkswinkels om uit te kies. Is jy nuuskierig om meer te leer en jeuk jou hande om iets nuuts te maak? Kom werk saam met die plaas se kwekers, bakkers en makers en leer by hulle die fynere kunsies van hul werk.
BABYLONSTOREN
1 Oktober – Veg on fire! Get grilling with Babel’s head chef
6 Oktober – The secrets of traditional Italian balsamic vinegar
13 Oktober – Garden Day: create your own flower crown
14 Oktober – The colourful world of clivias and other indigenous bulbs
15 Oktober – Garden Day: create your own flower crown
20 Oktober – Craft your own homemade soaps
21 Oktober – Create a natural freshwater pond
27 Oktober – The beautiful world of fynbos
28 Oktober – Pasta from scratch
SOETMELKSVLEI
1 Oktober – Cape cookery: traditional melktert, melkkos & koesisters
2 Oktober – Bake your own pies: four ways with traditional butter pastry
3 Oktober – Blacksmithing: forge a pigtail braai fork
8 Oktober – Farm brew: bean-to-cup coffee experience
8 Oktober – Everything’s better with butter: make butter & bake buttermilk rusks
9 Oktober – Pickle and preserve the season’s abundance
10 Oktober – Make a 3-legged milking stool
15 Oktober – Magic with milk: make butter, soft cheese & yoghurt
16 Oktober – Chocolate and cake celebration: bake your own treats
17 Oktober – Craft a wooden spoon and an iron ladle
22 Oktober – Master meat: make boerewors & droëwors
23 Oktober – Bake with mulberries
24 Oktober – Leathercraft: dog collar & leash
29 Oktober – Bloomin’ beautiful: the art of flower pressing
30 Oktober – Cape food: traditional bobotie with seasonal chutney
31 Oktober – The art of bookbinding
31 Oktober – Craft a traditional riempie camping chair