Wat gebeur in April?
March 24th, 2025Die herfs is hier en saam daarmee die eiesoortige kleure van dié seisoen … soms, as mens gaan stilstaan, is dit kompleet asof jy ’n vergete ou sepiafoto gadeslaan. Die plaas het reeds ’n ander ritme aangeneem en, met die olyfbome wat oortrek is met vruggies, het die bedrywige druiwepars nou plek gemaak vir olywe wat kelder toe koers kry. Die 2025-oesjaar se olyfolies is reeds in wording.

In die tuin word die vrugte in die kweperheinings algaande ryp, terwyl plomp granate en persimmons soos klein lanterns aan die bome hang. Teen die einde van April is dit weer tyd vir die eerste sitrusvrugte: die soetste, sappigste Nules-nartjies. Hierdie pitlose sitrusvrug is propvol vitamien C.
Dit raak ook tyd om boerboontjies, knolgroente en groen blaargroente in die grond te kry sodat die tuin in ’n volgende seisoen weer haar oorvloed kan deel.

Betowerende Paasfees
Hierdie Pase is dit die towerkrag van die natuur in die stil hoekies van die tuin wat ons inspirasie is. Ons woudtema maak ruimte vir ’n bietjie lawwigheid en speelsheid om jou paasviering onvergeetlik te maak. Daar is sjokoladediertjies, pragtig versierde soetkoekies en heerlike paasgebak. En vir verdere opwinding het ons ’n paar goue eiers tussen ons sjokolade-eiers weggesteek. Wie weet? Dalk is dit jy wat een vind en ’n deel van R30 000 se geskenkbewyse wen. Beskikbaar by die Plaaswinkel of aanlyn.

Loofahs
Ons is tans midde-in ons tweede loofah-oes. Hierdie sponse kom van die koddige komkommerplant (Luffa aegyptiaca)) en is die natuur se antwoord op ’n skurwe vel.

“Die plante gedy in ons tonnels. Hulle groei vinnig en is van nature plaagbestand. Ons laat die sponse aan die plant sit om te droog, trek dan die bruin skil af en skud die sade uit. En dan is dit gereed om jouself te pamperlang,” sê Elzé Bresler, ons tonnelekspert.
Plante uit die oertyd
In April huisves die Pofadder-uitstaltonnel ’n versameling interessante vetplante. Ons meesterbotanis, Dr Ernst van Jaarsveld, en sy span het ’n ongelooflike versameling skaars en fassinerende vetplante byeengebring. Die verskillende vorms, kleure en tipes van hierdie geharde, droogtebestande plante het oor millennia heen by hul ongenaakbare omgewing aangepas. Dit maak hulle uiters geskik vir die waterarm toekoms.

Soetmelksvlei
Die skoolvakansie en Paasfees is om die draai, en Soetmelksvlei is nét die plek om te besoek. Ons is geseën met nuwe lewe in die kraal. Kom ontmoet ons Ayrshire-koei se kalfie en ons Swartkoppersie-lammetjie. En, as alles goed gaan, raak ons een van die dae ook ’n Percheron-vulletjie ryker. Dié wat saam met ons wonder hoe groot ’n reuse wit perd se baba nou eintlik is, sal weldra uitvind …

Hou teen einde April ons webwerf dop, want Soetmelksvlei bied spesiaal vir kinders ’n dag propvol paaspret aan, met lekker aktiwiteite en die maak van smulgoed. Vanaf April is visvangentoesiaste ook welkom om in ons plaasdam te kom witvis vang (en weer los te laat). Hengelaars jonger as 10 moet deur ’n volwassene vergesel word.
Blou in the Press
Kry die voortreflike herfsuitgawe van House & Leisure in die hande. BLOU in Keurbooms maak sy mediadebuut in ’n pragtige artikel deur sy heel eerste gas, hoofredakteur Charl Francois Edwards. “Hierdie mengsel van oud en moderne style is sinoniem met Babylonstoren en The Newt, en wat ek ‘die Babylonstoren-estetika’ noem,” merk hy op, omring deur elke uitsig en skakering van blou. BLOU vang die essensie van kaalvoet-luuksheid vas op die rand van die Indiese Oseaan. Die agt selfsorgkothuise kan slegs bespreek word deur gaste wat reeds by óf Babylonstoren Farm Hotel óf The Newt in Somerset gebly het.

Herfsdrome word waar
April se langer nagte en langnaweke maak dit die ideale tyd vir Babylonstoren se Plaashotel. Sluit douvoordag by die waterbuffeltoer aan. Sit aan vir ’n luilekker ete by Babel Restaurant. Verloor tred met tyd terwyl jy by die Tuinspa in die verhitte swembad agteroorlê, met die mooiste uitsig op Simonsberg. Teen latenstyd is daar ’n bergrit met die belofte van ’n skemerkelkie by die uitkykpunt en ’n asemrowende sonsondergang. En dan is daar boonop die vooruitsig op ’n luilekker bad en spierwit lakens.
Bespreek in April vir vier nagte se verblyf en betaal slegs vir drie.

Werkswinkels in April
Babylonstoren
1 April – Young artists: drawing in the garden (kids aged 7–12)
2 April – Fishing on the farm: a family affair (kids aged 7–12)
3 April – Explore a bug’s life (kids aged 7–12)
8 April – Grow your own winter vegetables
9 April – Sketching in Babylonstoren’s garden
10 April – Risotto 101: a celebration of our farm-grown rice
16 April – Combat garden pests, naturally
23 April – Discover the secret life of bees
24 April – Craft your own homemade soap
Soetmelksvlei
4 April – Family Fun: learn how to make sun prints
11 April – Everything’s better with butter: make butter & buttermilk rusks
12 April – The ancient art of bookbinding
15 April – Explore the world of Babylonstoren’s olives
17 April – Healing herbs: doepa with local finds at Soetmelksvlei
25 April – Seed saving and swapping in the Soetmelksvlei garden