Wat gebeur in Desember?
November 25th, 2025
’n Seisoen vol vreugdes
Met die jaar wat einde se kant toe staan, waardeer ons die eenvoudige vreugdes van die seisoen – kosbare tyd saam met geliefdes, koel water op ’n warm vel en die soet smaak van sappige somervrugte. Aan die een kant is die plaas baie bedrywig – op die tuinpaadjies en in ons restaurante, in elke blaar en boom. Maar terselfdertyd voel dit asof ons stadig uitasem – ’n mens sien meer glimlagte en die skaterlag van kinders lui soos klokkies in die boorde.

Die enigste manier om te gee …
Miskien is ons bevooroordeeld, maar ons voel Babylonstoren is die heel lekkerste plek om geskenke te koop. Kom wandel met die grondpaadjies langs, ontdek die Plaaswinkel se olies, wyn, ingemaakte produkte, tradisionele gebak en stylvolle kombuisware, en stap dan oor na die Geurkamer met sy pragtige Kersprodukte. Op pad huis toe draai ons jou geskenke mooi toe – soos nét Babylonstoren kan – terwyl jy die plaasatmosfeer geniet.

Openingstye gedurende die feestyd
15–23 Des: 09h00–19h00
24 Des: 09h00–15h00
25 Des: Gesluit
26–30 Des: 09h00–18h00
31 Des: 09h00–15h00
1 Jan: 09h00–18h00 (terug na normale ure)

Handgemaakte erfstukke
Vir ’n nóg rustiger koopervaring, kom loer by Soetmelksvlei se Jonkershuis Plaaswinkel in. Dis asof mens die outyd instap met unieke, duursame borduurwerk, gebreide items, leerware, ystersmeewerk, houtwerk, boerseep, gegeurde beesvet, boeke, vrugtestroop en outydse gebak. Soetmelksvlei se handgemaakte Kerstoneel met klein figuurtjies, ’n donkie, koei en skaap, is toeka se teenvoeter vir kitssnuisterye. En as jy nie self plaas toe kan kom nie, bring ons die plaas na jou toe. Gaan snuffel gerus aanlyn by ons keurige feestydverskeidenheid.

Heeltyd speeltyd op die plaas
Hier kan kinders na hartelus speel. Nog beter – speel saam! Die tuin is ’n lushof vir kranige ontdekkers. Moeder Natuur laat almal gou-gou van tegnologie vergeet. Ou Brulparra se waterspuite is die beste pret! En terwyl ouers ’n rustige ontbyt of middagete by die Glaskas Restaurant sit en geniet, kan kleintjies in die leivoor speel. Die nuwe Byzantium – ons byetempel wat hulde bring aan hierdie harde werker – is ’n sensoriese hoogtepunt. Stap deur die Moestuin tot by die koperdak om meer te leer oor heuningbye.

Ouskoolaktiwiteite | Ouskooljolyt
By Soetmelksvlei speel kinders nog soos in die ou dae. Tussen die lewensgrootte pophuis in die Ou Kelder en die buitespeelplek agter die Ou Stal Restaurant, is daar soveel om te ontdek! Kom “melk” gerus ’n houtkoei – die watergevulde uiers sorg vir vet pret. Soetmelksvlei is elke dag gedurende die skoolvakansie oop, en ons het ekstra werkswinkels en aktiwiteite om kinders aktief en geïnteresseerd te hou. Bespreek asseblief aanlyn – beskikbaarheid is beperk en daar mag ekstra koste wees.
Maandag – maak vlieërs
Dinsdag – oorlewing (slegs ouderdom 10+)
Woensdag – boeresport (gratis)
Donderdag – kuns & handwerk
Vrydag – draadkuns
Sondag – skattejag
Kleintjies kan ook met handgemaakte papier kom Kerskaartjies maak. Dit sal na ’n ouetehuis in Franschhoek geneem word.

Eetbare skatte
Ons is versot op tamaties, veral die erfstukkultivars wat ons op die plaas kweek. Met name soos Blue Beauty, Berkeley Pink Tie Dye, Copper River, Orange Flute en Brad’s Atomic is hulle so uiteenlopend en geurig soos wat hulle mooi is. Die verskillende vorms en kleure lyk fantasties op ’n bord – en ons eet mos heel eerste met ons oë!
Desember bring ’n oorvloed geure – van kersies, appelkose en perskes tot pere, appels, druiwe en mango’s. Die laventel blom blou terwyl vlierblomme binnekort gedistilleer, gefermenteer of tot ’n geurige stroop gekook gaan word.

C’est si bon-sai!
Bonsais is fassinerend, maar dit is veral besonders om die magtige kremetartboom in miniatuurvorm te sien. Die uitstalling in die Pofadder verteenwoordig dekades se Suid-Afrikaanse bonsaikuns, met eksotiese sowel as inheemse bome soos die witstinkhout en kremetart wat tans uitgestal word.

Somersmultyd
Op 6 Desember kom sit gaste – in rooi getooi – in ’n geheimehoekie van die tuin by ons Someroestafel aan. Ons seisoenale oestafels is ’n viering van samesyn, natuurskoon, kraakvars heerlikheid en ons kelder se sterwyne. Desember se kaartjies het blitsvinnig uitverkoop, maar besoek ons webwerf om betyds jou plek by een van 2026 se seisoenale oestafels te bespreek.

Krismis kom vroeg …
Bederf jouself met ’n heerlike wegbreek by die Plaashotel. Bespreek twee nagte tussen 1 en 16 Desember en kry 20% afslag. Vir beskikbaarheid, e-pos [email protected]

Tuinkuns
Ons blommekunstenaar, Constance Stuurman, toor met alles wat in die tuin groei! Kom stap saam met haar en maak saadkoppe, blomme, groenigheid en enigiets anders wat vir jou mooi is bymekaar. Constance is ’n inspirasie en sal jou lei om iets spesiaal vir jou feestafel te skep.
Nog onseker wat om vir daardie één persoon vir Kersfees present te gee? ’n Werkswinkel by Babylonstoren of Soetmelksvlei, natuurlik!

Werkswinkels in Desember
Babylonstoren
02 Dec – Christmas decor from the garden
03 Dec – Christmas decor from the garden
09 Dec – Lavender harvest & essential oils
10 Dec – Christmas decor from the garden
11 Dec – Christmas decor from the garden
Soetmelksvlei
04 Dec – Pickle & preserve summer’s abundance
05 Dec – Make farm butter & bake buttermilk rusks
11 Dec – Family fun: make sun prints
12 Dec – Hands-on kids: bake & ice festive biscuits