Wat gebeur in Januarie?
December 29th, 2025
SOMERskakerings
Welkom, 2026! Ons gee die nuwe jaar se eerste treë met ’n slukkie bitterlekker en taai gelatovingers.
Somer op die plaas bring kalmte en ’n sorgelose vakansie-atmosfeer. Kinders wat in die sitrusblok se vlak dammetjies baljaar. Die somerson wat helder skyn. Sonsondergange in vele skakerings van pienk. Strooihoedens en uitgerekte middagetes … Ons hekke staan elke dag oop, ook Nuwejaarsdag, so maak seker jy kom wandel deur die tuin en vind lafenis met ’n bitterlekker onder die akkerbome.
Met oestyd wat in aantog is, is die plaas en tuin hierdie tyd van die jaar propvol lewe en net so bedrywig soos die besige bye tussen die blomme. Ons tuiniers het hul hande vol met Afri-Rose en Afri-Blush appels en amandels, murgpampoentjies en soetrissies, kruie, erfstukkomkommers en eiervrug. En natuurlik hou ons wynmakers die wingerde fyn dop in afwagting op die wingerdoes.

2026 Werkswinkels by Babylonstoren & Soetmelksvlei
Het jy dalk die voorneme om in 2026 ’n nuwe vaardigheid aan te leer? Babylonstoren en Soetmelksvlei se werkswinkels bied jou die ideale geleentheid om in jouself te belê. Jy kan leer bak of snoei, plante kweek of jou eie soplepel uit hout timmer – ons werkswinkels bied iets vir elke smaak. Daar is hierdie jaar baie nuwe ervarings asook werkswinkels op Saterdae. Maak seker jy bespreek jou plek vroeg om teleurstelling te voorkom.

Vanmelewe se dae
Rek daai vakansiegevoel so ’n bietjie langer uit met ’n uitstappie na Soetmelksvlei, waar alles teen ’n effens stadiger pas gebeur. Ons is tot en met 18 Januarie van Maandag tot Sondag oop. Bring die kinders om ons plaasdiere te kom ontmoet, met die hand room af te skei en hulle te verwonder aan hoe baie daar in die 19de eeu op ’n plaas aangegaan het. Ons vakansieprogram is propvol pret, van skattejag en vlieërs maak tot ’n volle dag se oorlewingsuitdaging vir kinders ouer as 10. Al die besonderhede is op die Soetmelksvlei webwerf.

’n Jaar vol blomme
’n Nuwe jaar sal nie dieselfde wees sonder ’n vars Babylonstoren-kalender nie, en hierdie een stel nie teleur nie. Ons pragtige 2026-kalender, wat oudergewoonte oor ’n hanger vou, het 13 maande se inspirerende foto’s, haikoes, seisoenale wenke en resepte om jou van seisoen na seisoen te begelei. “Ek hoop mense sal dit nie bloot as ’n kalender sien nie, maar dat dit elke maand ’n herinnering sal wees om ’n stadiger pas in te slaan en die mooi in elke seisoen raak te sien,” sê Susan Brand, hoof van ontwerp.

Vertoef so ’n bietjie langer
Hoekom sou mens die jaar injaag as jy dit kan insweef? Luilekker wandelings in die vrugteboorde, uitgerekte middagetes of ’n verfrissende swem in ons kristalhelder bergpoel (slegs vir hotelgaste) is die perfekte redes om op die plaas te kom oorbly. Bespreek tussen 8 Januarie en 28 Februarie twee nagte by die Babylonstoren Plaashotel en kry 20% afslag.

Dubbeldoor
Ons bars van trots! Babylonstoren Nebukadnesar 2023 het ’n uitmuntende 95 punte in Platter se 2026-wyngids verwerf en ons In die Wolke Pinot Noir 2020 spog met 93. En albei is natuurlik heerlike somerwyne. Geniet die Nebukadnesar liggies verkoel aan ’n oorvloedige etenstafel, of drink die heel beste somerrooiwyn – Pinot Noir – op gesellige kuieraande.

Ons stel BabylonSTORIES bekend
Met die nuwe jaar is daar ook ’n paar nuwighede op die plaas. Ons stel BabylonSTORIES met trots bekend. Ons nuwe vodsending vier die merkwaardige mense, plante en plekke wat Babylonstoren maak wat dit is en word ter plaatse opgeneem – daar waar elke dag se storie ontvou. In elke episode delf ons so ’n bietjie dieper in die wonderlike dinge wat op die plaas aan die gang is – van ’n zoemende byekorf tot vrolike vetplante, ’n erfeniskombuis tot ’n florerende tuin. Ons belowe interessante gesprekke met die kenners wat die Babylonstoren-ervaring help skep. Dis die kans om die plaas opnuut te ervaar saam met die stemme wat daaraan lewe gee. Dis op Spotify, YouTube en Apple beskikbaar, asook op die Babylonstoren toep.

Workshops in December
Babylonstoren
20 January – Crafting Kokedamas
21 January – Discover the secret life of bees
27 January – Craft your own homemade soaps
Soetmelksvlei
23 January – Heirloom tomatoes: bake your own galette with traditional butter pastry
29 January – Pickle & preserve with summer’s abundance
30 January – Bake your own savoury breads