Winter is voor die deur  

By Babylonstoren is dit nou tyd vir die stadiger seisoen. Gaan wandel ’n mens hierdie tyd van die jaar teen ’n stadiger pas en met ’n fyner oog deur die tuin, is die winter se skoonheid daar, reg voor jou oë. Van die leibome wat met hul kaal stamme afgeëts staan tot die inheemse noem-noem (Carissa macrocarpa) wat nou met bloedrooi vruggies spog. Die somer se oordaad is vir eers verby, maar die tuin is steeds ’n paradys, en dis asof die skatte wat in die winter te voorskyn kom, byna nóg meer kosbaar is …  

Dis nie asof die winter geen oorvloed het nie – die plaas se immergroen sitrusbome staan ry op ry met kleurvolle vrugte, soos liggies onder die grys Bolandse hemel. Ons het meer as 30 sitruskultivars, die een so smaaklik soos die ander – van Nules- en Tango-nartjies, koemkwats en lemmetjies tot Valencia-, bitter Seville- en bloedlemoene. In die komende maande sal ons hierdie oorvloed in ons spesiale bokse deel. 

Die laning Fan Retief-koejawels in die tuin is reg vir eet – dis die ideale smaaklike winterhappie, gereed om te pluk sodra jy deur die tuin se hekke ingestap kom. Op daai ekstra nat en koue reëndae bied die Speseryhuis ’n warm toevlug, terwyl die ondergrondse keldertoer en wynproe jou ’n gesellige uitkomkans gee om die winterweemoed te verdryf. Die vrolike gekwetter van ’n paar subtropiese voëls is ’n nuutjie – kom verwelkom saam met ons die Speseryhuis se nuwe inwoners: die groot bergspreeu (Gracula religiosa), Nicobar-duif (Caloenas nicobarica) en die smaragduif (Chalcophaps indica). 

Wintertye by Babylonstoren  

Met die son wat saans vroeër sak, het Babylonstoren se ure effens verander.  

Gedurende die winterseisoen maak die plaas se hekke elke dag om 09h00 oop en sluit weer om 17h00.  

NEEM ASB. KENNIS: Babel Restaurant se openingstye verander ook in Junie en Julie:  

Maandae – Babel gesluit; Italiaanse Aand in die Ou Bakkery

Dinsdae – Babel gesluit; Italiaanse Aand in die Ou Bakkery

Woensdae – Babel Restaurant oop  

Donderdae – Babel Restaurant oop 

Vrydae – Babel gesluit; Italiaanse Aand in die Ou Bakkery 

Saterdae – Babel Restaurant oop 

Sondae – Babel gesluit; Karnivooraand in die Ou Bakkery  

Kom ervaar Soetmelksvlei 

Hierdie winter kan besoekers na ’n nuwigheid uitsien. Net ’n klein entjie vanaf Babylonstoren lê Soetmelksvlei se plaaswerf. Hier vier ons die handwerk en vernuf wat tipies op ’n 19de eeuse plaas aangetref sou word. Kom besoek die Plaashuis en Tuinier se Huis waarvan die interieurs in die fynste besonderhede herskep is om ’n huis voor die draai van die 20ste eeu voor te stel. Die gereedskap en tegnieke van ’n vervloë era herleef by die Ou Kelder, Stokery, Meule en Werkswinkel, en gaste kan ook praktiese werkswinkels bywoon. 

Die Ou Stal Restaurant bedien heilsame plaasdisse en by die Jonkershuis Plaaswinkel is pragtige handgemaakte items en lekkernye te koop.  

Dis noodsaaklik om ’n bespreking te maak vir ’n besoek aan Soetmelksvlei. Gaste kom by Babylonstoren se kaartjiekantoor bymekaar en word van daar af na Soetmelksvlei vervoer. 

Vadersdag  

Vadersdag is om die draai en as jy wonder hoe om vir Pa te bederf, het ons die antwoord. Ons het iets vir elke pa-figuur in jou lewe – van die praktiese ou tot die dromende digter, van die petrolkop tot die kranige kok.   

Onthou, alle geskenke word pragtig en met sorg toegedraai, en saam met ’n handgeskrewe kaartjie afgelewer. 

Kyk aanlyn na al ons Vadersdagidees.

Op die plaas en in die tuin is daar ook meer as genoeg om uit te kies. As sy liefdestaal gehaltetyd is, bederf hom met ’n dag se kuier op die plaas. Bespreek ’n keldertoer na die ondergrondse proelokaal of bespreek ’n tafel by Babel vir ’n luilekker middagete – net die heel beste vir die heel beste pa!

Winterwyne 

Die volgende wyn in die Wynklub se botaniese versameling word binnekort vrygestel, net betyds vir winteraande langs die kaggel. Barbera is ’n gladde, sappige en lewendige wyn met goeie suurheid. Dié Italiaanse kultivar is die tweede in hierdie reeks van vier wat deur die loop van 2024 vrygestel word.   

Psst! ’n Intekening by ons Wynklub is ’n wonderlike geskenk vir enige pa wat lief is vir sy glasie druiwevog.

Luilekker in die kooi  

Met die sonnetjie wat soggens sku is en ’n geniepsige byt in die lug, kan mens gerus ’n bietjie later onder die vere lê. En daar is geen beter plek om dit te doen as by ons luukse Plaashotel nie. Kom stel ons gasvryheid op die proef – ons belowe droomlekker dae en saans ’n knetterende kaggel.  

Bespreek drie nagte se verblyf, en ons gee jou die vierde nag gratis. Hierdie winteraanbod geld tot die einde van Augustus. 

Terwyl jy hier is …   

🍕 kom geniet ’n Italiaanse aand by die Ou Bakkery op Maandae, Dinsdae en Vrydae;  

⛰ klim op vir ons bergrit en ervaar die mooiste sonsondergang vanaf die uitkykpunt op Simonsberg – kompleet met skemerkelkie in die hand; 

🚲 spring op ’n fiets en ry die plaas se paadjies plat (ons bome sit vol heerlike nartjies sou jy op pad aan ietsie wou knibbel).  

Werkswinkels in Junie 

5 Junie – Unlock the diversity of indigenous succulents  

7 Junie – Everything’s better with butter: make butter & bake buttermilk rusks  

11 Junie – Break bread with our master baker  

12 Junie – Inside scoop: the secrets to buffalo mozzarella and gelato  

14 Junie – Introduction to Leathercraft: cleaning, cutting and braiding  

19 Junie – Craft your own homemade soaps  

21 Junie – Bake your own: aniseed rusks & spice biscuits  

25 Junie – Grow your own veggies (workshop for kids aged 8–12)  

25 Junie – Grow your own veggies (workshop for kids aged 4–7)  

26 Junie – Break bread with our master baker  

28 Junie – Distillation: make your own mampoer!  

Bespreek jou plek.