Die gevoel van die somer is nog met ons, maar alles gebeur teen ’n effens stadiger pas, en ons raak bewus van die natuur wat homself begin voorberei op die volgende seisoen. Daar is dikker skille, digter vlees en meer gekonsentreerde suikers. Die tuin deel haar skatte in amber, goud en robynrooi, en elkeen wat geduldig hierop wag, word beloon met ongeëwenaarde geure.  

Wanneer die son teen latenstyd agter die horison wegsak, word ons asems weggeslaan deur die mooiste skakerings van pienk, oranje en pers. Dis asof ’n flambojante Moeder Natuur by die Babylonstoren-koppie kom kuier het en skaamteloos flikkers gooi. Daar is baie mense wat meen hierdie is die heel mooiste tyd van die jaar in die Boland. 

Pampoenpret

In Maart kraai pampoen koning! Die hoogtepunt is Pampoendag op Sondag, 2 Maart. Kom deel in hierdie jaarlikse pampoenpret waar ons pampoenpitte spoeg en pampoene kerf, of kom kyk hoe vaar jy met pampoenkegelbal en ’n enorme kettie spesiaal vir pampoene. Dis ’n heerlike uitstappie vir die hele gesin, met heerlike pampoenhappies om aan te knibbel Kinders kan selfs hul pampoenpaspoort laat stempel vir ’n verniet gelato! 

Op Babylonstoren kweek ons 40 pampoenkultivars wat in Maart in die Pofadder-uitstaltonnel te siene sal wees. Maar die hoogtepunt is Mafuta. Hierdie bielie is gekweek van die saad van Dill’s Atlantic Giant. Mafuta het op die kruin van sy groeikurwe met 7 kg per dag uitgesit! Sal dit genoeg wees om 2024 se kampioen van 380 kg te onttroon? En hoe dra mens ooit ’n pampoen wat 380 kg weeg? (Vra vir pampoenman Terry en hy deel graag sy geheim: ’n kettingsaag!) 

‘n Wonderlike oesmandjie

Een van die groot lekkertes van die herfs is dat ons armsvol groente en vrugte oes om vars te geniet. Maar daar is altyd genoeg vir inmaak ook – potjies vol piekels, konfyt en blatjang. Daar is granate in hul mooi rooi baadjies, goue kwepers met daardie sagte wollagie, goudryp pere, keiappels, pynappelkoejawels (ook bekend as feijoa), stekelrige draakvrugte en persimmons met ’n skil so blink soos kan kom. 

In die tonnels is daar steeds pragtige erfstuktamaties tot aan die einde van Maart, en uit die tuin en tonnels kom daar ook eiervrug, patat, skorsies, snybeet, seldery, blaarkool, mizuna, beet, radyse, sampioene, vinkel en babagemmer. 

Soetmelksvlei se trots

Elke nou en dan word ’n nuwe babatjie by Soetmelksvlei gebore. Een van ons Swartkop Persiese skape het in Februarie aan haar lam die lewe geskenk. Kom maak gerus ’n draai by die kraal en sê hallo vir ons nuwe mammas en amper-mammas. 

Die Ou Stal Restaurant by Soetmelksvlei het ’n “trotstafel” by die oorvloedige oestafel gevoeg waar die allerbeste geure uit die boorde, tuin en kraal bedien word – op die oomblik ryp vye, kraakvars appels en turksvye in al hul glorie.  

Risotto op almal se lippe

Dis weer oestyd in die rysveld. Op ’n besoek aan die plaas het jy dalk al van die paadjie afgedwaal en afgekom op iets wat soos ’n vlak waterblommetjiedam lyk – maar sonder die waterblommetjies! Dis hier waar ons carnaroli-risottorys groei totdat dit heuphoogte bereik. Dan word die rysveld gedreineer en toegelaat om uit te droog. Wanneer die plante strooikleurig is, is die rys ryp en gereed om te oes. Carnaroli staan bekend as die “kaviaar” van rys en maak die heerlikste, romerigste risotto. Bespreek gerus ’n tafel by Babel Restaurant om te kyk hoe ons sjefs met ons eie risottorys en plaasvars pampoen nuwe disse optower. 

Nuut en lekker

Babel se innovasiesjef, Ailene de Villiers, is druk besig om die oorvloed van die warmer maande te verwerk. Sy is aan die piekel en preserveer en fermenteer – en een van die dae staan ons spense vol ingemaakte flesse. Ailene bekoor Babel se gaste met haar geurige botaniese asyn en heerlike vyebotter. In Maart fokus ons ook op ons plaas se eie amandels en pampoene en Babel se uitvoerende sjef, Schalk Vlok, beveel die pampoenpoeding ten sterkste aan. 

By Babel sowel as die Glaskas Restaurant is die kollig op plaasvars groente, met nuwe disse vir vegetariërs en veganiste op die spyskaart. Ou gunstelinge soos die Glaskas-burger, gemaak met verouderde Chianina-beesvleis, bly immer gewild. 

Ons susters – hier en oor die water

Dis altyd lekker om nuus oor ons susterlandgoedere te deel. As jy in Engeland is, besoek gerus The Story of Emily in St Ive, Cornwall. Met Internasionale Vrouedag net om die draai herinner dit ons daaraan dat vroue die status quo kan bevraagteken en só ’n blywende impak op die mensdom kan hê – soos wat Emily Hobhouse gedurende die Anglo-Boereoorlog gedoen het.

Elders in Engeland bied The Newt in Somerset inspirerende werkswinkels aan waar vaardighede aangeleer of verfyn kan word.

Van die Britse eiland na die Europese vasteland, meer spesifiek die heuwels van Chianti in Italië, waar die eerste tekens van die lente by Vignamaggio gevier word. Maart spog met ’n seisoenale karnaval, ’n mimosafees en ’n vetplantmeesterklas!

By Over-Amstel Boerderij in Nederland kan jy kies tussen ’n kaasmaakwerkswinkel of ’n sommelierproe – of sommer albei!

En terug in Afrika, spog BLOU in Keurbooms met die mooiste sonsondergange oos van Babylonstoren. 

Paasfeespasellas

Hou ons aanlynwinkel gerus in Maart dop vir die heel lekkerste paaslekkernye. Ons lewer natuurlik by jou voordeur af (of by die paashaas s’n – nes jy verkies). 

Werkswinkels in Maart

Babylonstoren

28 Feb – Pampoenpret (presented in Afrikaans)  

1 March – Pumpkin fun(presented in English)  

5 March – Unlock the diversity of indigenous succulents 

12 March – Capture the season’s scents with fragrant herbs 

19 March – Craft your own homemade soaps 

Soetmelksvlei

6 March – Master meat: make your own salami 

7 March – Magic with milk: make your own butter, soft cheese & yoghurt 

12 March – Pickle & preserve summer’s abundance 

14 March – Heirloom tomatoes: bake your own galette with traditional butter pastry  

20 March – Cape food: traditional bobotie with quince chutney 

27 March – Master meat: make boerewors & droëwors 

28 March – Hands-on kids: bake & ice your own farm animal biscuits (kids aged 6–12) 

Bespreek nou.