Wat gebeur in Mei?
April 24th, 2025
Die Herfs se Omarming
Met die draai van die seisoen bring die natuur vir ons sterk geure op die palet asook ’n fees vir die oog: van helder oranje nartjies in die bome tot ons wingerde en boorde wat in roes en amber getooi is. Die tuiniers pluk nou peperwortel, vla-appels en koejawels, terwyl Ian en sy plaasspan Nules-nartjies, pekanneute en olywe oes. Laasgenoemde is reguit op pad olyfpers toe vir ons uitsonderlike ekstra suiwer olie.

Bobaas in die Buiteland
Ná ’n stadige seisoen waarin die druiwe vir ons Mourvèdre Rosé kans gekry het om langsamerhand ryp te word, is dit net-net betyds geoes en gebottel om die skip na Engeland te haal. By hierdie jaar se RHS Chelsea Blommeskou word die 2025-oesjaar oudergewoonte ontkurk en geskink as die amptelike rosé van die skou – en dis reeds die vyfde jaar wat ons so maak.

Hierdie jaar is ekstra betekenisvol aangesien Babylonstoren en The Newt in Somerset saamwerk aan ’n Karoo-vetplanttuin. Dit sal die eerste keer wees wat inheemse Suid-Afrikaanse vetplante by Chelsea ten toon gestel word. Hierdie tuin is enig in sy soort en die gevolg van fyn beplanning deur ons vetplantdeskundiges onder leiding van Dr Ernst van Jaarsveld en Katie Lewis, landskapargitek by The Newt in Somerset. Hou ons sosiale media dop vir die nuutste vanaf die Chelsea Blommeskou. Op die plaas stal ons ook gedurende Mei ’n besonderse versameling vetplante in die Pofadder-tonnel uit – kom kyk gerus self!

Spys & Klank op Moedersdag (11 Mei)
Bederf Ma met ’n spesiale oggend vol beweging en geur. Begin met ’n stildisko in die tuin – omring deur voëlgesang en kruiegeure – en geniet daarna ’n smulleker oestafelontbyt in die Glaskas Restaurant. ’n Speelse, hartlike ervaring vir ma’s en dogters om saam te geniet – of ’n heerlike oggend uit vir supermammas wat daarvan hou om in die natuur litte los te skud.
08h00–09h00: Stildisko | 09h15–10h30: Ontbyt in die Glaskas Restaurant | Koste: R850 (sluit toegang, stildisko en ontbyt in) | Oorfone word voorsien | Maksimum 60 gaste

Die Mooi van Moedersdag
In Mei eer ons die vroue wat ons grootgemaak het en wat steeds as ons inspirasie dien. Bederf vir Ma met ’n besoek aan Soetmelksvlei en gee saam met haar ’n tree terug tot in vanmelewe se dae. Sit saam aan by die oestafel, skep by die vuurherd ’n hartlike bredie en sluit die ete af by ons tafel spesiaal vir soettande, met goue gunstelinge soos melktert, suurlemoen-meringuetert, koesisters asook koeksisters. Heerlike huiskos nes háár ma gemaak het.

Nog ’n lekker bederf is ’n wandeling deur die tuin, ’n heerlike gelato of ’n vonkelende glas Cap Classique by die Proelokaal. En as sy te ver woon, verras haar met ’n aflewering vanaf ons aanlynwinkel – of dit nou Babylonstoren se spesiale pamperlangprodukte is of pragtig versierde soetkoekies, die allerlekkerste fyngebak of bros beskuit.
Numero Uno Gelato
Dis amptelik! Ons bloedlemoengelato het goud gewen by 2025 se SA Suiwelkampioenskap – en dít vir die tweede agtereenvolgende jaar. In hierdie superspesiale gelato kom twee van ons gunstelingdinge byeen: ryk volroommelk van ons eie trop waterbuffels en marmelade gemaak van ons bloedlemoene. Maar geen beskrywing kan eintlik reg laat geskied aan hierdie eiesoortige smaakervaring nie – kom proe eerder self op die plaas, of bestel aanlyn.

Tyd vir Leer
Mei se stadiger pas gee jou die kans om meer tyd vir jouself te maak en te fokus op dít wat regtig saakmaak. Dis ook die ideale tyd om ’n nuwe vaardigheid aan te leer, of dalk iets wat jy reeds kan doen te verfyn of bemeester. Kom leer by die eksperts wat Babylonstoren en Soetmelksvlei se werkswinkels aanbied – alles van tradisionele Kaapse kookkuns, bak en tuinmaak tot byeboerdery. ’n Werkswinkel is natuurlik ook ’n uitstekende geskenk vir ’n geliefde.

Werkswinkels in Mei
Babylonstoren
06 May – Break bread with our master baker
07 May – Autumn decor from the garden
14 May – Explore the world of Babylonstoren’s olives
18 May – Explore the world of Babylonstoren’s olives
21 May – Craft your own homemade soaps
20 May – Beekeeping on International Bee Day
Soetmelksvlei
02 May – Magic with milk: make your own butter, soft cheese & yoghurt
08 May – Master meat: all about venison & biltong
09 May – Nuts for pecans! Bake a pecan pie & carrot cake
15 May – Love the taste of culinary herbs
16 May – Cape cookery: traditional melktert, melkkos & koeksisters
22 May – Harness nature’s colours with fynbos dyeing
23 May – Bake your own pies: four ways with traditional butter and pastry
29 May – Autumn abundance: pickle & preserve
30 May – Bake your own: teatime treats with choux pastry & almonds