Dis die seisoen van oorvloed en in die wingerde en boorde word daar gewerskaf! Die bye is aan die zoem in die lappie laventel voor Babel, vlytige vingers is aan die snoei en die Moestuin se laaste lente-aanplantings word nou gedoen.  

Dis nog nie eers behoorlik somer nie, en ons mandjies is reeds oorlopens toe vol – sappige nektariens, avokado’s, aarbeie, komkommers, vlapampoentjies en soetrissies. Die eerste feestelike rooiblink kersies sal ook teen die einde van November ryp wees.  

Die wonderseisoen …   

By ons skop die wonderlike feesseisoen middel-November af. Kom verlustig jou hierdie jaar in die vreugdes van die seisoen, nes ’n kind wat opgewonde wag op ’n spesiale verrassing. Kom onthou saam met ons ’n krismisbed in Ouma se sitkamer, laataand se kuier op die stoep en luilekker vakansieoggende, of die oopmaak van ’n spesiale geskenk omring deur jou geliefdes. 

Ons sien daarna uit om besoekers met ’n unieke Kersboom, wat getuig van die plaas se oorvloed, by die kaartjiekantoor te verwelkom. Daar is ook nog vele ander feestydverrassings wat op gaste wag. Die Geurkamer maak weereens plek vir ons jaarlikse Kersfees-opwipwinkel, waar jou geskenke gratis toegedraai sal word voor jy huis toe ry.  

En as jy nie so gelukkig is om self by die plaas ’n draai te kan maak nie, het ons goeie nuus. Ons feestydprodukte – en soveel meer – is aanlyn by shop.babylonstoren.com te koop.   

Rose in kleur en geur 

November is roosmaand – die roostorings kreun letterlik onder massas blomme. Dis die heel beste tyd van die jaar om jou te verwonder aan erfenisrose soos Mme Alfred Carrière, Lamarque, Albéric Barbier, Souvenir de la Malmaison en Mermaid – nou op hul heel mooiste. Kom woon gerus die rooswerkswinkel by, of bewonder hierdie blom der blomme op die daaglikse tuintoer. Die toer is gratis, maar bespreking is noodsaaklik.

Bespreek nou.

Beste plaasrestaurant

Babel Restaurant het nog ’n veertjie in sy hoed! By die 2024 World Culinary Awards is Babel Restaurant aangewys as Afrika se beste plaas-tot-tafelrestaurant. Sedert sy opening in 2010 het Babel nog altyd by hierdie beginsel gebly: om vars, seisoenale kos so eenvoudig as moontlik te bedien. Pluk, skoonmaak en bedien is ons manier van doen.  

Onder leiding van hoofsjef, Schalk Vlok, verseker Babel se span dat elke dis ’n toonbeeld van die Suid-Afrikaanse plaaslewe is. Groente en vrugte word dikwels met wortels of blare aan bedien, sodat gaste die nabye verhouding tussen plaas en tafel op hul bord kan sien. 

Bespreek hierdie somer ’n tafel by Babel. Kom vroeg genoeg om by die oesterwaentjie in die binnehof ’n glas yskoue vonkels saam met die Weskus se beste te geniet voor jy by Babel aansit.  

Bespreek jou tafel.

Slaap sag 

Ons kondig met trots aan dat die Plaashotel by die Condé Nast Traveler Readers’ Choice Awards 2024 (US) as die beste hotel in Suid-Afrika aangewys is. Die hotel het ook by die 2024 World Travel Awards, wat onlangs in Kenia gehou is, met die louere weggestap (South Africa’s Leading Country House Hotel). Ons is ook by die Best of Wine Tourism Awards as nommer een in argitektuur en landskapontwerp aangewys. Hierdie toekennings onderstreep ons toewyding aan ons gaste. Dit bly vir ons uiters belangrik om ’n ware Wynlandervaring met Bolandse warmte en gasvryheid as grondslag aan ons gaste te bied.    

“In die heel eerste plek wil ons hê dat ons besoekers weer geanker moet voel. Dit is ons wens dat hulle die omringende berge geniet, hulle eie gesonde vrugte en groente pluk, in die plaasdam swem, ’n uur of wat in die spa deurbring, ’n eenvoudige vars gereg by een van die restaurante eet, teen die koppie uitstap, die sonsondergang inwag met ’n glasie wyn in die hand en dan tussen kraakvars lakens inkruip en rustig wegdommel … min of meer so iets.” Babylonstoren se eienaar, Karen Roos.

Wennerwyne 

Jy hoef nie op die plaas te wees vir ’n wêreldklaswynlandervaring nie! Net betyds vir die feesgety is ons geliefde Cap Classique, Sprankel, by die 2024 Veritas-toekennings met dubbelgoud bekroon – die derde agtereenvolgende jaar dat daar by dié toonaangewende kompetisie aan Sprankel dubbelgoud toegeken word. Buiten die Veritas-toekenning spog Babylonstoren Sprankel ook met die volgende: 

  • Double gold at the Michelangelo Awards  
  • Dubbelgoud by die Michelangelo-toekennings 
  • Dubbelgoud by die National Wine Challenge 
  • 92/100 toegeken deur Tim Atkin  
  • 91/100 toegeken by die International Wine Challenge  
  • 5 sterre toegeken deur John Platter 
  • Benoeming as 2024 se beste Cap Classique in Suid-Afrika 
     

Ons klink ’n glasie hierop en sien uit na nog vele meer glase topklas borrels gedurende die  feesseisoen!  

Dis nie net Sprankel wat met toekennings spog nie. Babylonstoren Nebukadnesar 2022 en Babylonstoren Babel 2023 het albei by die Veritas-toekennings goud gewen, en die 2023 Chardonnay – ’n volronde wyn met kenmerkende pikante sitrusaromas wat versag word deur komplekse vanielje- en neutgeure – is met silwer beloon.  

Ry jy die vakansie met Jan Tuisbly se karretjie? Of span jy uit langs die see? Bestel aanlyn vanaf enige plek in Suid-Afrika, en ons lewer jou gunsteling wyne af waar jy jou ook al bevind.   

Werkswinkels in November

1 November – Cape cookery: traditional melktert, melkkos & koesisters  
5 November – Grow your own seasonal vegetables  
6 November – Create a natural freshwater pond  
7 November – Festive table: showstopping summer salads  
8 November – Master meat: make your own salami & charcuterie  
12 November – Summer decor from the garden  
13 November – Fragrant garden roses  
15 November – Bake your own: teatime treats with choux pastry & almond cake  
20 November – Birding at Babylonstoren  
21 November – Love the taste of culinary herbs  
22 November – Cape cooking: traditional bobotie with seasonal chutney  
26 November – Discover the secret life of bees  
27 November – Grow your own edible and cut flowers  
28 November – Pasta from scratch with mozzarella  
29 November – Handcrafts at Soetmelksvlei: plant pressing  

Bespreek nou.