Wat gebeur in November?
October 28th, 2025
Ons is sommer vol sonskyn
Reisigers van regoor die wêreld het hulle stemme laat geld – niks klop die rustige sjarme van ’n plaaskuier in die Wynlande nie.
Babylonstoren se Plaashotel is deur die Condé Nast Traveller UK Readers’ Choice Awards 2025 as die beste hotel in Oostelike en Suidelike Afrika aangewys. Hierdie erkenning van Babylonstoren se plaasgasvryheid inspireer ons om aan te hou op ons pad van pragtige eenvoud.

Salig loop en mooi koop
Vat die plaaspad vir jou feesinkope. Kry eers ’n buffaccino en stap dan rustig agter die kalkoene aan. By die Plaaswinkel kan jy heerlike eet- en drinkgoed aanskaf. Die Geurkamer het pragtige nuwe produkte asook ’n seepstasie waar jy jou eie boodskap kan kies. En by Soetmelksvlei se Jonkershuis Plaaswinkel wag unieke handgemaakte items – geskenke met hart, gemaak om te hou.

Ode aan die bye
Ná jare se harde werk is die Byzantium – ons eie byetempel – oop vir besoekers. Hierdie interaktiewe uitstalling, afkomstig van The Newt in Somerset, is aan die bopunt van die tuin, net agter die Moestuin. Ontdek die fassinerende wêreld van bye en hul noue verbintenis met ons. Dis ook waar ons byewerkswinkels plaasvind. Ons nooi jonk en oud om te kom sien hoe ’n korf werklik werk – ’n besondere ervaring vir elke byeliefhebber.

Die tuin van naderby
Ons vier Garden Town Stellenbosch met ’n reeks spesiale praatjies en toere wat deur ons tuin- en insektekundiges aangebied word. Kom woon gerus A Bee’s Eye View, The Wonderful World of Rock Gardens of Babylonstoren’s Cycad Collection by. Plek is beperk en bespreking noodsaaklik.

’n Oes van Uitnemendheid
Ons pronkwyn, die 2023 Nebukadnesar, het by die Veritas-toekennings ’n dubbelgoud gewen, terwyl die 2020 Sprankel en 2024 Babel rooi versnit goud gewen het. Ook ons olyfolie blink plaaslik en oorsee uit, met vier toekennings by Olio Nuovo Days Southern Hemisphere in Parys: Best Blend of Show, Top 10 Premium Gold Blend, Premium Gold Coratina en Gold Frantoio. Ons EVOO (die versnit, Coratina en Frantoio) is al drie by die SA Olyftoekennings met goud beloon, en Babylonstoren Coratina was onder die ABSA Top Tien Olyfolies van 2025. Waarlik iets om op trots te wees!

Ons mandjies loop oor
Die somer se oorvloed is pure lekkerte. Ons geniet tans ’n verskeidenheid bessies – aarbeie, bloubessies, moerbeie, frambose en kersies – saam met appelkose, perskes en nektariens. Ook pynappels, stroopsoet spanspek en papaja. En dan is daar natuurlik ons puik erfstuktamaties – sinoniem met die smaak van somer.
Wingerd, granate en vla-appels blom nou, terwyl die artisjokke, beet, geelwortels, radyse en blaargroente in die groentetuin floreer. Die rose en kamille blom ook met oorgawe. Daar is kruie te kies en te keur – roosmalva, kruisement, salie, tiemie, basiliekruid, vinkel, dille en meer – net betyds vir vrolike vakansiedisse. In ons plaas se tonnels groei komkommers, tamaties, murgpampoentjies, pampoen en langsteelbroccoli met mening.
Ons jaarlikse bonsai-uitstalling pronk in die Pofadder-tonnel, terwyl jy in die Glaskas allerhande interessante komkommers kan bekyk.

Ontbyt soos in 1896
Ná die sukses van Soetmelksvlei se middagete-oestafel het ons nou ook ’n soortgelyke ontbyttafel. Kom geniet sappige vrugte, romerige waterbuffeljogurt, heel heuningkoek, plaasgebak, brode en beskuit, asook pikante piekels. Daar is heerlike warm ontbyt van die vuurherd af: Goedgedacht-mieliepap met kaneelsuiker en sitrus, of Chianina-boerewors met tamatiesmoor en pap – alles bedien met ’n koppie boeretroos. Geniet ’n luilekker oogtoemaak op die stoep of onder ’n skaduboom – dalk kom sit Gemmer die kat langs jou.

Skemerkelkies by Soetmelksvlei
In November skop ons af met skemerkelkies langs die Soetmelksvleidam, Woensdae tot Sondae van 16h00 tot 18h00. Dis ’n lieflike manier om jou besoek af te sluit – en ’n uitstekende rede om na 1896 terug te keer. Bespreking is noodsaaklik.

Rek en strek
Dis juis nou die tyd vir kalmte – vir liggaam en siel. Kom strek en haal diep asem saam met ons yogi in die Wit Ateljee, en geniet daarna ontbyt in die Glaskas Restaurant. Ons bedien waterbuffeljogurt en tuisgemaakte granola saam met tee of koffie. ’n Heerlike bederfie vir jouself of ’n geliefde. Bespreking is noodsaaklik.

Vir jou dagboek: somer se oestafel
Die onlangse lente-oestafel was ’n heerlike affêre met skitterende liggies, lekkerruikbloeisels en klinkende glase – ’n langtafel in die kronkelende Pofadder-tonnel waar plaasvars oorvloed gevier is. Ons someroestafel vind op 6 Desember plaas – presies waar is nog geheim. Dis ’n sielvolle, seisoenale ervaring vir dié wat die mooi in klein dinge raaksien – en vir wie brood breek ’n oomblik van ware konneksie is. Beperkte getalle – bespreking is noodsaaklik.

Het jy geweet?
’n Werkswinkel by Babylonstoren of Soetmelksvlei is die heel beste geskenk – en jy kan dit aanlyn koop. Ons het regtig iets vir almal – van tuinmaak en voëlkyk tot smidwerk, outydse gebak, leerwerk, houtwerk en hekel. Dis die seisoen van gee: bederf jou geliefdes met ’n spesiale ervaring waar hulle terselfdertyd iets nuuts met hul hande leer doen.

Werkswinkels in November
Babylonstoren
05 Nov – The secret life of bees
11 Nov – The healing powers of herbs
12 Nov – The basics of birding
18 Nov – The diversity of indigenous succulents
19 Nov – Prune fruit trees like a pro
25 Nov – Create a natural freshwater pond
26 Nov – Grow edible and cut flowers
Soetmelksvlei
01 Nov – Blacksmithing: forge your own ladle
06 Nov – Bloomin’ beautiful: the art of flower pressing
07 Nov – Magic with milk: make your own butter, soft cheese & yoghurt
08 Nov – Craft a traditional citrus wood & riempie stool
13 Nov – Fruit & flower cordials & bush teas
14 Nov – Teatime treats with choux pastry & almonds
15 Nov – Build a traditional wooden birdhouse
21 Nov – Berry feast: bake a frangipane tart
27 Nov – Traditional handcrafts: colour crocheting
28 Nov – Bake your own savoury breads
29 Nov – Advanced leathercraft: dog harness & leash