Wat gebeur in Augustus?
July 24th, 2025
In vino veritas
Dis ’n maand van kontraste: die grysheid word nou en dan onderbreek deur helder, sonnige dae en deur kleurvolle sitrusvrugte wat aan ons bome pryk. Die eerste pienk en wit bloeisels van die vroeë steenvrugvariëteite maak reeds hul welkome verskyning, maar ons weet ook dat die winter allermins verby is. En hiervoor is daar ook raad: ons robynrooi bloedlemoene is propvol antioksidante, en nét die ding om jou teen die laaste winterkoue te staal. Daar is baie om na uit te sien – raak wakker uit jou winterslaap en kom speel saam.

Bloedlemoendag
Ja, ons bloedlemoene is gepluk, gesorteer en die nodige rustyd gegun om hul kenmerkende rooi kleur verder te ontwikkel. En nou is hulle uiteindelik gereed om op te slurp: vars, versap, in skywe of as bestanddeel in olies, asyn en poedings. Dit was ’n uitmuntende oes wat ons baie graag met jou deel. Bloedlemoenweek skop op 27 Julie af, met die hoogtepunt – Bloedlemoendag – op Sondag, 3 Augustus.
Met berge vars bloedlemoene om aan te smul asook stalletjies met ’n hele rits bloedlemoenprodukte – gelato, bloedlemoen-olyfolie, versnaperings, gebak, kerse en pamperlangprodukte – gaan hierdie ’n dag wees om te onthou. Dat hierdie sappige vrug met sy soet, skerp en aromatiese smaak ook supergesond is, is ’n wonderlike bonus. Kom deel in die oorvloed van hierdie sitrusvrug waaroor ons doodeenvoudig gek is.

Rugbyghoeroes aan diens
Faf en Tjokkie, Soetmelkvlei se oulike klein donkies, is kranige Bokondersteuners – soveel so dat hulle ook die wedstryduitslag voorspel. Om hulle te help met hierdie belangrike taak is hulle uitgevat in oulike Boktruie en eet hulle hope kraakvars wortels. Hou gerus ons sosiale media dop om te sien watter manewales hulle aanvang.

Ons Vadersdag-werkswinkels – waar deelnemers ’n houtmelkstoeltjie gemaak het – was só suksesvol dat ons besluit het om weer die skaafperde op te saal vir nog ’n rondte werkswinkels. Geen vorige houtwerkondervinding is nodig nie, net die begeerte om saam met een van jou geliefdes ’n pragtige houtstoeltjie te maak.
Bespreek sommer nou om teleurstelling te voorkom.

Koel klanke, Glaskas-lekkernye en ontspan by die spa
Glip jou dansskoene op die eerste Saterdag van elke maand aan – by ons Beats & Eats [hyperlink] stil disko in die Skaduhuis kan jy litte losmaak omring deur duisende boslelies. Hierna volg ’n heerlike ontbyt in die Glaskas Restaurant. Almal is welkom, maar bespreking is noodsaaklik.

Hoe klink ’n lekker streksessie om die winterkoue te verjaag? Besoek die plaas op enige weeksdag tot 30 September en kies ’n sessie Stretch & Indulge of Stretch, Indulge & Spa. Onder leiding van ons eie jogi kan jy kom strek en diep asemhaal in die Wit Ateljee, en daarna ’n gesonde ontbyt in die Glaskas Restaurant geniet. Het jy dalk so ’n bietjie ekstra pamperlang nodig? Kom vir die res van die dag na ons warmspa, met volle gebruik van die groot binneswembad, sauna, soutkamer en twee bruispoele. Spabehandelings is ’n opsionele ekstra en moet vooraf bespreek word om teleurstelling te vermy.
Almal is welkom, maar met kapasiteit vir slegs ses persone per dag is bespreking noodsaaklik.

Winterkos deluxe
Babel se innovasiesjef, Ailene Vermeulen, was die afgelope tyd druk besig om allerhande gewasse uit die tuin te fermenteer en in te maak. Babel se spens is oorlopens toe vol met ’n interessante verskeidenheid asyne – vir so ’n skeutjie suurheid by amper enige dis. Daar is asyn gemaak van bloedlemoene, ook van keiappels en suurlemoenverbena, en van pruime en shiso. Haar gefermenteerde sampioensous gee umami-oemf aan enige ete, terwyl ons geroosterde vark- en lamsdisse met vyemolasse (gemaak van Februarie se oes) bedruip word. Ons uitvoerende sjef, Schalk Vlok, maak ook seker dat bloedlemoene dwarsdeur Augustus in die seisoenale disse en poedings op Babel se spyskaart pryk.

Verrassings in die tuin
Die uitstallings in die Pofadder-tonnel en die Glaskas gaan die hele Augustus voort – so as jy nog nie kans gehad het om te kom kyk nie, is dit nog nie te laat nie.
In die Pofadder fokus ons steeds op rotse – daar is soveel te leer uit hierdie oerklippe. En net anderkant die Skaduhuis, naby die Welwitschia-rotstuin, staan ons klipklavier – een van die mensdom se heel eerste instrumente en die bewys dat klank en ritme reeds van die vroegste tye deel van die mens se bestaan was. Kom speel gerus jou eie deuntjie deur met ysterklip daarop te kap.
Die meeste van ons ken ’n pynappel slegs waar hy op ’n winkelrak lê. Kom kyk gerus hoe groei hierdie subtropiese vrug in die Glaskas – en nee, daar is nie iets soos ’n pynappelboom nie.

Glorieryke gasvryheid
Ons gasvryheidspan is hardwerkend en toegewyd en dis vir ons ekstra lekker wanneer hulle daarvoor erkenning kry. Ná honderdduisende stemme van reisigers is Babylonstoren se Plaashotel met ’n punt van 95.41 by die Travel + Leisure 2025 World’s Best Awards as die derde gewildste oord in Afrika aangewys – die enigste Suid-Afrikaanse oord in hierdie kategorie. En by die 2025 World Travel Awards is die Plaashotel ook onlangs aangewys as Suid-Afrika se voorste Country House Hotel.
Kom ervaar dit self – in Augustus kry jy ’n gratis vierde nag wanneer jy drie nagte se verblyf bespreek. Of bespreek vir twee nagte en ontvang ’n gratis spabehandeling van 30 minute. B’s en V’s geld.

Sonnige susterlandgoedere
By ons susterlandgoedere in die noordelike halfrond skyn die somerson nou op sy lekkerste. By The Newt in Somerset is die pragtige tuine, woude en boorde vol lewe, blomme en vrugte. En die herskepte Roman Villa bied welkome lafenis – glip weg uit die dag se hitte en onderneem ’n reis deur tyd en hereryke van weleer. Beplan jou besoek nou.

Sou jy jouself in Cornwall bevind, ruim gerus ’n besoek aan The Story of Emily in. Hier kom Emily Hobhouse se merkwaardige lewe en heldedade tot hul reg. Die War Rooms is ’n multisensoriese museumuitstalling wat van innoverende tegnologie en verhaalkuns gebruik maak om hierdie hoofstuk uit die geskiedenis te verlewendig. Boonop bied die restaurant uitmuntende Suid-Afrikaanse disse – moontlik die beste Suid-Afrikaanse kos in die buiteland!

Op die Europese vasteland is ons prettige Nederlandse suster, Over-Amstel Boerderij aan die Amstelrivier, naby genoeg aan Amsterdam vir ’n dagbesoek. Bespreek vir ontbyt of middagete (gemaak met bestanddele uit hul tuin en kaas uit hul melkery) en ervaar die lewe op ’n polder. Of bespreek ’n werkswinkel en leer hoe om jou eie heerlike Nederlandse kaas te maak.

Maandae – Babel gesluit; Italiaanse Aand in die Ou Bakkery
Vir dié wat koers kies Italië toe, is die Chianti-heuwels ’n moet. Kom eis jou stukkie la dolce vita op by Vignamaggio, ons grasieuse Italiaanse suster. Geniet ’n dag by La Fattoria om die heerlike plaaslike kos en wyn op die proef te stel en volg die geskiedkundige paadjie tot by die Roomse Tuin – ’n versteekte oase met fonteine, waterfokuspunte en ’n verskeidenheid ornamentele en helende plante.
Werkswinkels op die plaas
Babylonstoren
1 Julie – Craft your own homemade soap
5 Augustus – The fascinating world of rocks, stone tools & rock gongs
6 Augustus – Sharpen your fruit tree pruning skills
13 Augustus – Prune and weave with vines in the garden
19 Augustus – Inside Scoop: the secrets to buffalo mozzarella & gelato
20 Augustus – Harvest & distil chamomile
26 Augustus – Craft your own homemade soaps
27 Augustus – Discover and grow cycads
28 Augustus – Forage for indigenous veld foods
Soetmelksvlei
1 Augustus – Magic with milk: make your own butter, soft cheese & yoghurt
7 Augustus – Traditional needlework: the basics of colourful quilting
8 Augustus – Nuts for pecans: bake a pecan pie & carrot cake
14 Augustus – Master Meat: make boerewors & droëwors
15 Augustus – Cape Cookery: traditional melktert, melkkos & koeksisters
22 Augustus – Bake with citrus & spice
29 Augustus – Master Meat: debone a chicken & make stock