Winter se mooiste rooi

Die bloedlemoenseisoen is kort, maar o so soet. Moet dit nie misloop nie. Die groot oes is gepluk en verkoel sodat die vlees sy kenmerkende robynrooi kleur kon ontwikkel. Kom geniet hierdie besonderse sitrusvrug saam met ons op Bloedlemoendag, Sondag 2 Augustus. Oral op die plaas wag proestasies en aktiwiteite waar bloedlemoene in al hul heerlikheid gevier word – vars, uitgedruk, ingelê, in gelato, gebak en op allerlei ander maniere voorgesit.

Die mees onlangse episode van BabylonSTORIES is die ideale lusmaker vir Bloedlemoendag. Boomkenner en sitrusentoesias Comine Joubert neem jou op ’n reis deur die verstommende wêreld van sitrus, van alledaagse gunstelinge tot die vreemdste en wonderlikste variëteite.

 Volgens ’n wetenskaplike studie is bloedlemoensap dalk meer as net heerlik. Toe muise dieselfde hoëkaloriedieet gevolg het, het dié wat bloedlemoensap gedrink het minder gewig opgetel as dié wat gewone lemoensap gedrink het. Toeval? Ons dink nie so nie. Toets dit gerus self met ’n boks bloedlemoene, beskikbaar by die Plaaswinkel en aanlyn.

Van grond tot mond, terug grond toe

Soos dr. Ernst van Jaarsveld dikwels sê: alles begin met die grond. Dit bring seisoen ná seisoen nuwe oeste voort, daarom vorm volhoubare en grondverrykende boerderypraktyke die basis van alles wat ons doen. Ons is trots daarop om deel te wees van die South African Food Loss & Waste Initiative (SA FLWI). Ons uitvoerende sjef, Schalk Vlok, staan saam met tuinier en komposentoesias Morné Olivier aan die stuur van sake in ons poging om voedselvermorsing regoor die plaas uit te skakel. 

“My grootste dryfveer is die gaste-ervaring. Ek wil hê Babylonstoren moet nie net bekend wees as ’n pragtige plaas wat uitsonderlike produkte kweek en bedien nie, maar ook as ’n plaas wat die voortou neem met volhoubare tegnologie. Ek is passievol oor bokashi – ’n fermentasieproses wat voedselafval omskep in ’n voedingstofryke grondverbeteraar – en voel bevoorreg dat ons dié oplossing regoor die plaas kan toepas,” sê Morné.

Die Boland se beste brunch

Tot einde Augustus bedien ons elke Saterdag- en Sondagoggend ’n oorvloedige brunch in die glashuis van die Glaskas Restaurant. Sit saam met jou gunstelingmense aan by ’n oestafel propvol lekkerte uit ons tuine, boorde en bakkery, met ’n keuse tussen twee warm ontbyte, bedien met tee of koffie. As die reën oor die glaspanele dans, sorg houtstowe en knus koesterkos vir warmte. Verken daarna die tuine, wandelpaaie en seisoenale uitstallings op jou eie pas. Kinders jonger as agt eet gratis. Aanlynbesprekings is noodsaaklik.

’n Wyn wat lekker saampraat

Ons rooiversnit, Babel, is gemaak om te deel. Met shiraz en cabernet sauvignon as die hoekstene, is dit ’n volronde rooiwyn wat tot sy reg kom langs ’n kaggel of om ’n lang tafel saam met braaivleis, lamsboud of ’n geurige bredie. Om die winterkoue te verdryf, is Babel gedurende Augustus teen ’n spesiale prys beskikbaar. Of kom kuier in ons Proelokaal, waar peuselborde hoog gestapel word met die beste uit ons tuine, boorde en spens. Vir ’n gerieflike aandete by die huis, geniet Babel saam met een van die plaas se gereed-om-te-eet-geregte. Albei is aanlyn en by die Plaaswinkel beskikbaar.

Die kelder kraai koning

By die 2026 National Wine Challenge Special Awards is die gehalte en veelsydigheid van Babylonstoren se kelder nogmaals bekroon. Shiraz 2023 is as Grand Cru Nasionale Kampioen – Beste in Klas aangewys, terwyl Nebukadnesar 2023, Shiraz 2023 en Sprankel 2020 elk Top 100- én Dubbelplatinum-toekennings ontvang het. Cabernet Sauvignon 2024 en Chardonnay 2025 het die prentjie afgerond met Dubbelgoud-toekennings. ’n Mooi oes vir ’n kelder wat in elke styl uitblink.

Stadiger is mooier

Soetmelksvlei se deure is ná die winterpouse weer oop. Die plaaswerf is vol lewe met sy groeiende dierefamilie, tradisionele ambagte, praktiese werkswinkels en heerlike plaaskos. Begin die dag met ’n plaasontbyt of lang middagete by die Ou Stal Restaurant en verken die vele fasette van die plaaslewe aan die einde van die 19de eeu – ’n tyd toe alles nog met die hand gemaak is en viervoetige vriende met die swaar werk gehelp het. Behalwe vir Faff en Tjokkie, ons miniatuurdonkies. Hulle word reeds vir die rugbyseisoen gebrei.

Blomme vir die lekker

Die tuin skiet van onder af uit. Terwyl winterwortels en bolle ondergronds hul ding doen, ontvou geurige blare in allerlei skakerings en teksture. Surings, tuinkers, vinkel, brandnetels en kruie staan welig, terwyl perdeblomme en kappertjies kleur en geur na die bord bring. Uit ons tonnels kom kraakvars ertjies, langsteelbroccoli, goudgeel borrie en sappige erfstuktamaties – ’n skaars winterbederf wat ons tamatieliefde ook deur die winter voed. Die Glaskas Restaurant se glashuis huisves tans pynappels, bessies en ’n besondere versameling inheemse plante. Verken dit gerus voor of ná jou ete.

Strek en skep asem

Of jy nou lus is vir ’n bietjie tyd op jou eie en of jy saam met goeie vriende wil ontspan, kom sluit by ’n oggend- of middagsessie van strek- en asemoefeninge onder leiding van ons joga-instrukteur aan. Kom vir net ’n sessie, of rond dit af met ’n heerlike, heilsame ontbyt in ons Glaskas Restaurant. En as jy genoeg tyd het, kom sommer vir ’n hele dag en benut ons Stretch, Indulge & Spa-aanbod. Dit sluit volle toegang tot die warmspa se verhitte baddens, soutkamer en stoomkamer in – ’n welverdiende blaaskans vir liggaam en gees.

Bespreek aanlyn 

Die winter se laaste pasellas

Bly drie nagte by Babylonstoren se Plaashotel en betaal net vir twee – dis ’n volle ekstra dag om die plaaslewe te ervaar. Of bly twee nagte en ontvang ’n 30-minute-spabehandeling met ons komplimente. Beide aanbiedinge geld slegs tot 31 Augustus.

Bespreek nou

By ons mooi sussie aan die kus, BLOU in Keurbooms, ontvang gaste wat drie nagte bespreek ’n vierde nag gratis. Nog tyd om walvisse dop te hou, dolfyne te sien baljaar of sommer net niks te doen nie. Volg @blouinkeurbooms op Instagram vir ’n nader kykie na hierdie uitsonderlike plek by die see.

Bespreek BLOU

Wittebrood om van te droom

Beleef die beste van twee wêrelde met ons Berg na See-pakket. Geniet twee nagte op Babylonstoren en drie nagte by BLOU in Keurbooms – vyf dae van ongelooflike natuurskoon wat jou horison sal verbreed. 

Bespreek Berg na See

’n Jaar in die tuin

Tuinlidmaatskap gee jou vir ’n volle jaar onbeperkte toegang tot die plaas. Deel só in al die seisoenale hoogtepunte – van lentebloeisels tot herfsoeste en alles tussenin. Sluit teen 31 Augustus aan om 12 maande se Tuinlidmaatskap teen die huidige tarief van R150 te kry.

Vanaf 1 September sal volwasse plaastoegang (18+) R190 kos, terwyl kinders steeds gratis toegang geniet. Elke volwasse toegangskaartjie kan as 12 maande se Tuinlidmaatskap geaktiveer word en, sodra jy geregistreer is, ontvang jy ook ’n R190-koopbewys om aanlyn by shop.babylonstoren.com te bestee.

Werkswinkels in Augustus

Sluit aan by ’n groep entoesiaste om onder leiding van ons span kundiges ’n nuwe belangstelling te ontdek of ’n bestaande vaardigheid verder te slyp.

BABYLONSTOREN

4 August – Craft your own homemade soaps

11 August – The fascinating world of rocks, stone tools & rock gongs

12 August – Sharpen your fruit-tree pruning skills

19 August – Cut and weave decorative objects with vines

20 August – Wonders of waterblommetjies

25 August – Harvest & distil Cape chamomile

26 August – Inside scoop: the secrets of buffalo mozzarella and gelato 

SOETMELKSVLEI

1 August – Blacksmithing: forge your own steel carving fork

6 August – Make farm butter & bake buttermilk rusks

7 August – Bake teatime treats: choux pastry & almond cake

8 August – Make a 3-legged milking stool

13 August – Bake with citrus & spice

14 August – Pies: Four ways with traditional butter pastry

15 August – Blacksmithing: forge your own ladle

20 August – Master meat: all about venison & biltong

21 August – Cape cookery: traditional melktert, melkkos & koesisters

22 August – Advanced leathercraft: make a leather bag

27 August – Bake a pecan pie & carrot cake

28 August – Traditional handcraft: colour crocheting

29 August – Baking with apples