Die natuur se kuur 

Die herfs is in volle swang en hier by ons op Babylonstoren is die tuin en die res van die plaas getooi in die kleure van rooibos en heuningbos. Ons oes nou gemmer en borrie in diepwarm skakerings van goud, kyk uit oor die ryk rooie en bruine in die wingerde, verwonder ons aan die intense pienk vlees van ’n Fan Retief-koejawel en trek helder oranje nartjieskille van dié geurige vrugte in die sitrusblok af. Hierdie kaleidoskoop van herfskleure bemoedig ons, behaag ons, aard ons. 

Ná maande van volop sonskyn sal die twee groot pekanneutbome voor die Plaaswinkel binnekort met brons blare begin flikflooi. Die neute sit reeds in hul groen omhulsels aan die takke en oor die volgende weke sal dit stadig begin oopgaan en uitdroog om die kosbare bruin neute voort te bring. Ian en sy plaasspan begin oes binnekort ook die pekanneute in die plaas se boorde – spesiaal vir die Lekker Kamer waar dit in smullekker happies omtower sal word.  

Soggens is daar nou ’n byt in die lug en eersdaags sal ons sambrele uit die kas moet gaan opdiep, gereed vir die seisoen se eerste reëns. Dis tyd vir ’n stadiger pas, en vir stomende koppies tee om liggaam en siel te verwarm. 

Helende kruie  

Die Helende Tuin gedy hierdie tyd van die jaar. Hier groei ’n verskeidenheid medisinale spesies asook bome wat beskou word as van die “reuse” in tradisionele Afrika-geneeskunde. Die kruie teen die buitemuur volg die seisoene, van somer tot winter, en is gekies op grond van hul helende, strelende en balanserende werking. Die beste manier om dit in te neem is natuurlik deur middel van kruietee.   

Kyk bietjie of jy van ons tuinghoeroe, Constance Stuurman, se gunsteling immuniteitsversterkers kan raaksien: wilde-als (Artemisia afra), wildedagga (Leonotis leonurus), boegoe (Agathosma betulina), kooigoed (Helichrysum petiolare) en wynruit (Ruta graveolens). Of kom op ’n Dinsdag om 11h30 saam met Gundula Deutschländer op ’n tuintoer om kruie te versamel. Nie net kan jy dan haar spesiale kruietee proe nie, maar sy gee ook wonderlike wenke – hoe om gedurende die wintermaande met behulp van jou eie kruie-aftreksel gesond en stralend te bly.  

Babylonstoren in die Goudstad  

Ons bring ’n stukkie plaas Gauteng toe! Kom kuier gerus in Meimaand by ons stalletjie by KAMERS/Makers in Sandton en ontmoet die span. Jy sal ook die kans hê om jou eie lekkerruiklyfskrop te maak. Soggens bedien die stalletjie Vonkeltee en namiddae Viognier – kom geniet ’n glasie saam met ons!  

Waar: St David’s Marist College, Rivoniaweg, Inanda, Sandton   

Wanneer: In die week van 1–5 Mei 2024, 09h00–17h00  

La vie en rosé  

Terwyl die koue weer sy opwagting in die suide maak, word ons geliefde Mourvèdre Rosé na die Verenigde Koninkryk verskeep om die noordelike somer by die RHS Chelsea Blommeskou in te wy. As een van slegs twee RHS-vennoottuine in Afrika, is ons trots daarop om Suid-Afrika by dié geleentheid te verteenwoordig. Ons span neem die 2024-oesjaar Londen toe om tussen 21 en 25 Mei vir die vierde agtereenvolgende jaar die amptelike rosé van die skou te gaan skink. Gaan geniet dit daar, of kom proe dit in ons ondergrondse proekamer as deel van ’n insiggewende keldertoer. 

Mildelike moederliefde 

Om alle moeders en moederfigure in ons lewe te eer, het Babylonstoren ’n klomp bederfpakkies saamgestel, geïnspireer deur ons onvoorwaardelike liefde vir tuinmaak en deur die liefde en omgee wat ons in soveel oorvloed van ons ma’s ontvang.

Van ’n lekkerruik tussie-mussie met rose, roosmaryn en roosmalva en ’n unieke seleksie kruietees, tot pragtige geskenkpakke met handgemaakte botterkoekies wat deur die tuin geïnspireer is – daar is armsvol geskenke om vir haar jou waardering te wys. 

“Om tyd opsy te sit om vir jouself ’n potjie tee te maak, is ’n gebaar van selfsorg. ’n Koppie warm tee in die hande bring jou aandag na die huidige oomblik, en gee rigting vir die res van die dag. Dit bied ook die kans om ons nader aan ander te bring as ons hierdie eeue oue ritueel met hulle deel.”  
Gundula Deutschländer, meestertuinier en kruieteekoningin  

Werkswinkels in Mei 

3 Mei 2024 – Everything’s better with butter: make butter & bake buttermilk rusks  

8 Mei 2024 – Bank on it! Seed saving and swopping in the garden  

10 Mei 2024 – Introduction to Leathercraft: cleaning, cutting and braiding 

15 Mei 2024 – Broaden your gardening horizons with indigenous trees  

16 Mei 2024 – Pasta from scratch with olive pesto  

17 Mei 2024 – Bake your own: vegetable galette, quiche & fruit tarts  

22 Mei 2024 – Combat garden pests, naturally  

23 Mei 2024 – Molten Madness! Making garden inspired chocolate.  

24 Mei 2024 – Distillation: make your own mampoer!  

24 Mei 2024 – Internasionale Byedag (20 Mei)  

29 Mei 2024 – Spice it up! Harness the golden glow of turmeric and root spices  

30 Mei 2024 – Get funky with fermentation  

31 Mei 2024 – Bake your own: savoury breads for a festive table